Photos

By: Bridal Love Ministries  11-11-2011
Keywords: Van

Terugvoer - Langkloof

Nehemia (Caleb) by Jerusalem (Langkloof) se muur..

© Fotos:  Zanél Human Junie 2011 Merweville

Nehemia 2:17-18 " "You see the distress that we are in, how Jerusalem lies waste and its gates are burned with fire.  Come ad let us build the wall of Jerusalem that we may no longer be a reproach.  And I told them of the hand of My God which had been good upon me, and also of the King's words that he had spoken to me So they said "Let us rise up and build" Then they set their hands to this good work"

Nehemia 3:1 "Then the high priest rose up with his brethern the priests and built the Sheep Gate and they consecrated it and hung it's doors.."

Nehemia 6:15 "So the wall was finished in 52 days!"

Inleiding

Die afgelope Hoogliedseminaar in die Langkloof was vir my ‘n absolute hoogtepunt!  Ek dink nie ek het al ooit Vader se teenwoordigheid so letterlik en tasbaar ervaar soos in die aanloop tot en gedurende daardie week nie!  Afgesien van die lering was dit voorwaar ‘n week van profetiese aksies en intersessie! 

Agtergrond

Ek dink daar was ‘n paar gebeurtenisse lank voor ons Langkloof toe was wat vir my uitstaan as oomblikke wat Vader profeties ingespreek het in die bediening se rigting en wat ek beleef het as woord wat in vervulling gegaan het.  Dit was die volgende:

  • In November 2009 het Vader vir ons ‘n woord gegee waarin Hy gesê het dat hy sy Afrika bruid wil wakker maak en haar inroep in haar roeping as Sy Bruid!

  • Tydens die intersessie vir die Oktober 2010 kamp is daar spesifiek gebid vir mans om in te kom en hulle outoriteit op te neem as Bruid van Christus! Tydens die kamp op Hermanus was daar net 8 (‘n nuwe begin) mans uit die Langkloof..

  • In Oktober 2010 het 40 plaaswerkers vanuit die Langkloof (Joubertina)-area die Hoogliedkamp op Hermanus bygewoon. Hulle was genooi deur 2 spanlede wat opleiding in daardie area gedoen het, en verskeie borge het dit moontlik gemaak vir hulle om die kamp by te woon. Dit was as gevolg van hierdie groep se getuienisse en die sigbare verandering in hulle lewens na hulle ontmoeting met hulle Bruidegom Jesus, dat ons toe genooi is om die week van 14 - 15 Junie 2011 ‘n Hoogliedkamp in Misgund (30 km van Joubertina af) te gaan hou. So het ons dan die baie besonderse geleentheid gehad om 160 plaaswerkers in die Langkloof te gaan bedien met Hooglied.

  • Tydens BLM se "retreat" November 2010 het Poppie gedeel dat sy gedroom het dat sy swanger is met ‘n vreeslike groot baba - of dalk meer as een?

  • Tydens die toerusnaweek in Feb 2011 is daar ‘n geestelike baba gebore vir BLM wat Deon ‘Caleb' genoem het.

Vooraf reëlings en intersessie

In die aanloop na die Langkloof seminaar het ons ‘n besonderse belewenis van Jesus se betrokkenheid by elke detail van die beplanning van hierdie week beleef!  Hier is ‘n opsomming daarvan!

  • Ons het beleef dat Vader vir die nuwe baba (‘Caleb'?) wat in die Langkloof sou begin, ‘n baie spesiale plan gehad het. Hy het beplan dat die kinder- en grootmens- bedienings, wat tot dusver eintlik twee parallelle bedienings was, sou saamsmelt om een nuwe manier van bedien te word. Saam moes daar dus ‘n nuwe boek, nuwe powerpoint en ‘n nuwe manier van lesings aanbied, gevind word! ‘n Nuwe manier vir ‘n spesiale groep mense met wie Hy spesiale bemoeienis wou maak!

  • Een van die maniere waarop Hy dit vir ons wou duidelik maak was deur ‘n droom waarin Hy gewys het dat die kinderbediening en die grootmense se bediening in een motor na een bestemming ry met dieselfde visie, maar met 2 verskillende stelle toerusting.

  • Deel van Sy plan was dus dat die verskillende soorte toerusting wat Hy vir ons gegee het, op ‘n spesiale wyse een moes word!

  • Poppie beleef dat die Heilige Gees ‘n nuwe maklike Afrikaanse vertaling van Hooglied in haar gees plant vir gebruik tydens die twee dae se lesings.

  • Ons beleef dat die Kinderboek saam met BLM se eie nuwe Afrikaanse Hooglied-vertaling gebind moet word vir gebruik na die seminaar - sodat hulle notas het wat hulle kan gebruik om hulle eie "powerhouses" (klein groepe) te kan lei, en sodoende die boodskap kan uitdra na hulle eie gesinne.

  • Na verskeie drome oor ‘n nuwe "powerpoint" is die ook bygesit en saam met die nuwe teks gebruik in die aanbieding.

  • En ja - ek (Gerda) moes twee hoofstukke gaan aanbied wat vir my ‘n uitdaging was, want ek is gewoond daaraan om met die kinders rond te draf, pret te hê en prente in te kleur. Dit sou nie deug daar nie en Vader het met my ‘n baie besondere en persoonlik intieme pad gestap om my gereed te kry om dit in Sy krag en salwing te kon gaan doen!

  • Vader gee vir Poppie ‘n Woord oor "powerhouses" wat gevorm moet word en dat ons vir die 50 dae na paasfees nagmaal moet gebruik want iets groot gaan gebeur in daardie tyd!

Die pad soontoe

Ons is Maandag dou voor dag hier weg - 6 van ons in Suné Joubert se Jeep.. dit het beteken dat een van ons in die bagasiebak moes ry.. Gerda en Thea en selfs Deon het beurte gemaak.  Suné het dapper probeer maar die karsiek was net te veel en ons was nie lus vir ontbyt in ons nekke nie..

Ons het deur Meiringspoort gery en later, nadat Vader vir ons gewys het dat ons die skaappoort gaan bou het, (later meer hieroor) eers besef dat dit ‘n profetiese aksie was!

Maandagaand

Maandagaand was die eerste aand wat die hele span bymekaar kon wees - Ons was 8 (‘n nuwe begin!): 1 van Hartbeespoort, 1 van Ceres en 6 van Kaapstad.  Ons het ‘n baie kragtige tyd van intersessie gehad en verskeie sake bely soos wat Vader dit op ons harte gelê het.  Hy wys vir ons ‘n beeld van ‘n dam van seën wat begin oorloop en later die week sou ons uitvind dat die Kougadam daardie selfde dag vir die eerste keer in vyf jaar begin oorloop het!

Vader het vir Suné ‘n spesifieke intersessie - strategie uit Nehemia gegee wat gefokus was op die skoonmaak en terugneem van geestelike grondgebied in die Langkloof.  Hierdie strategie het bestaan uit ‘n reeks baie spesifieke profetiese aksies en belydenis van spesifieke sondes.  Ons kon beleef hoe Vader in geweldige detail ons lei om die pad oop te bid vir die werk van Sy Heilige Gees!  Sy het die outoriteit gehad om dit te gaan uitvoer omdat haar familie uit die Langkloof kom. 

Die seminaar self

Dinsdagoggend het die seminaar begin deur die Langklowers wat ons verwelkom het met ‘n lied.  Die lied se woorde was "Here sal U my lei, oor die berge en deur die valeie, Ja ek sal jou lei as jy maar net op jou kniëe sal bly!"  Terwyl hulle hierdie lied gesing het, het die span spontaan neergesak op hulle knieë, later het die Heilige Gees vir ons gewys dat dit ook ‘n profetiese aksie was..

Aanvanklik het ons die lesings aangebied deur op 4 platgeslaande hout tafels te staan, met die son in ons oë en ‘n dowwe powerpoint!  Maar soos altyd was alles wat ons sou kon dink verkeerd gegaan het, net so reg in Vader se plan..

Reeds op dag een het ons beleef dat Jesus die mense begin vrymaak het terwyl hulle onder sy Woord en salwing gesit en luister het.  Al die danse op beide dae moes in die helder daglig gebeur want ons het 16h30 elke middag klaargemaak sodat die mense nog betyds vervoer terug huistoe kon kry.

Die getuienisse oor die eerste appeltjies (wanneer Jesus met jou praat) was so kosbaar!  Een vrou het getuig hoe die Heilige Gees vir haar gesê het om op te hou drink en haar lewe vir die Here te gee, en hoe sy eers die laaste 4 liter (!) wyn in die huis opgedrink het voordat sy dit toe gedoen het.  ‘n Man het getuig dat hy dronk was toe Jesus vir hom gesê het "Hier is die lyn, dis tot hiertoe en nie verder nie.."  en hoe Hy toe opgehou drink het en sy lewe vir Jesus gegee het.  Dit was wonderlik om te hoor hoe Jesus bemoeienis maak met elkeen in ‘n persoonlike verhouding met Hom!

Die Heilige Gees gee vir ons ‘n woord wat sê dat ons besig is om deure te hang..

Woensdagoggend het ons die saal gedraai in die rigting van die verhoog - Deon se openingsgebed was "Vader dankie dat U ons na U toe gedraai het.."  Nou kon ons powerpoint duidelik wees en het ons op die verhoog gestaan en praat.. later sou ons uitvind dat dit in die natuurlike nie die ideale omstandighede was nie..

Tydens liedere soos "Kiss the Son" en Psalm 23 was dit duidelik dat die Heilge Gees besig was om diep te werk met almal..

Drie mense is gedoop daardie middag in ‘n bad wat iemand op ‘n bakkie daar aangebring het.  Dit is vol water gemaak en die "urn" is ingespan om die water effens warmer te maak!

Met die laaste lied "Alleluja" van Michael W Smith het Poppie die mans op die verhoog laat staan met vlae om die aanbidding te lei.  Die mans wat nie op die verhoog kon pas nie het voor in die saal gestaan met hulle vlae en die vrouens agter in die saal met lappe.. en so sou Vader dan ook na die tyd vir ons wys dat ook hierdie so deel van sy plan en ‘n belangrike profetiese aksie was!

Na afloop van die seminaar het ons almal gesalf wat gevoel het hulle wil self verder hierdie boodskap gaan uitdra en is ons weereens gesëen daarmee om getuies te kon wees van Sy oorwinning oor die bose deur mense vry te maak, en onder die krag van die Heilge Gees te bring!

Op pad huistoe was daar die mooiste volmaan wat later die aand verduister was vir ‘n rukkie.  Ons het gevoel Vader verklaar hiermee dat Sy bruid in haar volle glorie skyn in die Langkloof en dat Hy haar in die wegraping gaan kom haal om in die bruidskamer saam met Hom te wees, maar sy sal vir daardie tydperk "verduister" wees vir die wêreld..

Woord en betekenis van die profetiese aksies     

Daar was soveel detail en profetiese aksies en woord wat Hy gestand gedoen het in hierdie week dat dit onmoontilk is om dit alles in te sluit, maar ek dink as ek iets moet uitsonder dan sou dit die volgende wees: 

Van die skrif wat die Heilige Gees vir ons gegee het was:

John 10:1-3 "I say to you he who does not enter the sheepfold by the door, but climbs up some other way, is a thief or a robber. But he who enters by the door is the Shepherd of the sheep. To Him the doorkeeper opens and the sheep hear His voice, and He calls his own sheep by name and leads them out. And when He brings out His own sheep, He goes before them, and the sheep follow Him for they know His voice!"

John 21:15-17 "Peter do you love me?  Yes Lord you know I do.. then feed my lambs.. shepherd my sheep.. feed my sheep..!"

Ezek 34:  "I am against the shepherds that fed themselves instead of the sheep.. I will gather and deliver my sheep from them.. I will feed them.. bind up that which is broken..I will strengthen that which is sick.. etc."

Neh 3:1 Then Eliashib the high priest rose up with his brethren the priests, and they built the sheep gate; they sanctified it, and set up the doors of it; even unto the tower of hundred they sanctified it, unto the tower of Hananeel (God's favour)

In die lig van al die legkaartstukke wat Vader vir ons gegee het, het ons hierdie skrif so verstaan:

Dat Hy BLM gebruik het om die "skaappoort" in die Langkloof te gaan herstel.  Dit was die eerste deel van die muur wat in Nehemia se tyd herstel is.  Dit is deur die Priesters (wat die "teachers" was) gebou. Die skaappoort was bewaak deur ‘n wag, dit was nie toegesluit nie.  Die skaapwagters moes enige tyd van die dag of nag met hulle skape in die stad kon inkom of uitgaan.  Die skape het die skaapwagter se stem geken en hom gewillig gevolg.. Jesus is die goeie herder, maar Hy is ook die deur waardeur ons toegang tot die ewige lewe verkry! In Hooglied hoofstuk 1 kom Hy as die goeie herder.. BLM het Jesus Christus as die deur en die Goeie Herder gaan verkondig! Ons was die deurwagters wat die deur gaan hang en oopmaak het vir die Goeie Herder om in te kom en Sy skape te voed en versorg!

Dit was interessant om raak te sien dat die enigste pad wat noordelike toegang tot die langkloof verleen - is Meiringspoort!  Die skaappoort het noordelike toegang tot die stad in Nehemia se tyd verleen!

  • Die herstel van die mans se outoriteit

Tydens die span se nabetragting Woensdagaand het ons besef dat ongeveer twee derdes van die kampgangers mans was..  Alhoewel hulle Afrikaans magtig is, is baie van hulle van Xhosa afkoms.  Vir die Xhosa is dit kultureel onaanvaarbaar dat ‘n vrou hulle leer.. ons was 2 vrouens wat die lesings aangebied het, en ons wil hul kom leer om die Bruid van Christus te wees..?  Hul kultuur sê dat mens nie op ‘n verhoog staan en "af" praat na hulle nie - jy sit as jy outoriteit erken en respek daarvoor het!  Ons het eintlik alles verkeerd gedoen volgens al hierdie kulturele voorskrifte.. en tog was Vader in beheer want:

Die boodskapper wat die boodskap vir Nehemia gebring het dat die stad in puin is se naam was Hanani.  Hanani beteken "to bow lowly before those who are your minors.."  Met die aanvang van die seminaar Dinsdag het Vader ons op ons knieë gehad voor die mense..  Ons het respek betoon aan hul outoriteit sonder dat ons geweet het dat ons dit doen..

Die eerste dag het ons ongemaklik gestaan op houttafels, ‘n kartonboks as "podium" en die son in ons oë.. sodat ons nie in die natuurlike "verhewe" sou wees bo hulle nie.  Sodat Vader hulle vertroue kon wen en hul eers kon vrymaak..

Gedurende die laaste lied het Poppie van die verhoog afgeklim die mans op die verhoog en voor in die saal laat staan en hulle het die aanbidding gelei - sodat hulle outoriteit aan hul teruggegee kon word! 

Vader het ons gebed voor Oktobermaand se kamp verhoor - die mans gestuur, hulle ingetrek in die Koninkryk van God en hul met eer en respek daar uitgestuur om die boodskap van hul Bruidskap te kan gaan uitdra..

Die feit dat die Vader vir ons die woord gegee het om nagmaal te gebruik vir die 50 dae na paasfees is ook besonder betekenisvol vir die Langkloof seminaar gewees.  Die 50 dae het net voor die seminaar verstryk en ons het 2 dae bedien - 52dae - Nehemia se muur is in 52 dae herstel!

Alkohol misbruik is een van die groot euwels in die Langkloof - en dit terwyl die oorspronklike voorwaarde waarop die grond beskikbaar gestel is vir die aanlê van die dorp dit duidelik gestel het dat geen alkohol ooit op daardie grondgebied verkoop mag word nie.  Vader het vir ons gewys dat die gebruik van die nagmaal deur Deon en Poppie en die span in die 50 dae voor die Langkloof seminaar ‘n profetiese aksie was wat die heerskappy van Bacchus afgebreek en ongeldig verklaar het.  Dit het die bloed van Jesus as die ware wyn, en die dronk wees met die Heilige Gees eerder as met natuurlike wyn, in die gees kom herstel, nog voordat ons voet aan wal gesit het in die Langkloof!

Die eerste twee sinne van Hooglied - maw die eerste twee sinne van God se Woord wat in die Langkloof seminaar verklaar is, was "Ek wens Jy wou my met Jou lippe soen, want Jou liefde is vir my wonderliker as wyn!"  Ons het ervaar hoe Hy die mense gesoen het en hulle sy liefde kon ervaar wat wonderliker as wyn is!

Ten slotte

BLM se baba "Caleb" kan waarskynlik vir verskillende mense verskillende dinge beteken, maar vir my het Caleb gestalte gekry hierdie week in die Langkloof. Interessant genoeg word Joubetina in die volksmond die baba van die Langkloof genoem!  Die nuwe eenheid tussen die kinderbediening en die grootmense se bediening het iets nuuts teweeg gebring.  Ek vertrou dat dit net die begin is van ‘n bediening, wat Vader gaan inspan om die Afrika Bruid wakker te maak!  Die span het beleef dat ons geweldig gesëend en bevoorreg was om getuies te kon wees van Vader se plan vir die herstel van Sy mure in die Langkloof.

Ons wil die God van die Hemel (soos wat Nehemia Hom herhaaldelik aanspreek), ons Koning, Sy seun Jesus en die Heilge Gees loof en prys en al die eer, glorie, bewondering en aanbidding aan Hom bring vir wie Hy in wese is.  Ons loof en prys Hom vir sy karakter wat Hy so duidelik vir ons kom wys het.  Vir sy leiding en kragtige vrymakende en genesende teenwoordigheid, salwing en onvoorwaardelike liefde kan ons nie genoeg dankie sê nie..

"We Love You Jesus"

Gerda Venter

0828992579

Keywords: Van