Bloederigheid tussen hul tande | Absolutely Perfect Water

By: Perfect Water  11-11-2011

Duisende mense en diere wat binne etlike kilometer van die Tweelopiespruit aan die Wes-Rand woon, sit op ‘n chemiese tydbom, sê kenners.

Elise Tempelhoff volg die bloedspoor wat die mynbedryf oor 120 jaar hier gelos het.

  • Strome bloedrooi water loop oral teen die helling af.
  • Op sommige plekke slaan dit soos rooi kolle op kladpapier uit.
  • Die water vlek die grond roesrooi.

Ses jaar gelede het die suur mynwater net by ’n ou ventilasieskag en ’n boorgat aan die noordelike helling van die Witwatersrand, by die Wes-Rand tussen Randfontein en Krugersdorp, uitgeborrel.

Deesdae loop dit hier, tussen die ou mynhope, op verskeie ander plekke ook uit. Al die stroompies rooi water wat teen die rant afloop, kom in die drif by die Tweelopiespruit bymekaar.

Die riete in die spruit is rooi gevlek en al die organismes wat vroeër daarin geleef het, is dood: visse, ongewerweldes, krappe en paddas.

Kol-kol op die oewer van die Tweelopiespruit lê wit neerslae soute soos omlope oral op die grond.

En ’n klipgooi verder, noordwaarts, in die Krugersdorp-wildtuin, ly mens en dier onder die nalatenskap van ’n mynboubedryf wat nou ná 120 jaar feitlik uitgeput is.

’n Giftige brousel

Mense wat voorheen bang was om te praat oor die bloedspoor wat die suur mynwater agterlaat, verbreek nou die stilte. Maar hulle praat namens ’n groep of vra dat hul naam nie genoem word nie, want die goudmynbedryf se “sakke is diep”. ’n Woordvoerder van African Bush Adventure (ABA) wat die Krugersdorp-wildtuin bestuur, sê die water in die Tweelopiespruit, wat deur die reservaat loop, is soms “niks anders as verdunde swaelsuur nie”.

Dis die enigste waterbron vir dié wildtuin se wild. Die meeste diere, veral die kleintjies, soos bokkies en kalfies wat pas gespeen is, weier om die water te drink. Dis “hartverskeurend” om te sien hoe hulle teruggaan na hul ma en sy nie meer melk het om hul dors te les nie, vertel ’n werknemer.

Dié diertjies oorleef nie lank nie. Hulle gaan dood van die dors.

Soms “behandel” Harmony Gold die water (wat by die ou ventilasieskag uitloop) met kalk en seepsoda in ’n poging om dit alkalies te maak. Maar in die reënseisoen oorweldig die water die mynhuis en dan loop megaliters suur mynwater direk en “onbehandel” in die Tweelopiespruit in.

Vroeër kon Harmony die meeste van die water wat by die ou ventilasieskag (in die omgangstaal bekend as “Buks se gat”) en boorgat uitgeborrel het, tot ’n mate beheer, maar deesdae sluit al hoe meer myne aan die Wes-Rand hul deure en kom die water “onbeheersd” na die dolomitiese kompartemente terug. Dit loop nou uit by boorgate en fonteine (hiervan was 36 in die omgewing van Randfontein) wat die afgelope eeu weens mynbou uitgedroog het.

Dié water, wat nou ná meer as ’n eeu “terug kom”, is giftig. Dit is besoedel met ’n brousel van swaar metale soos uraan, arseen, aluminium, kobalt, kadmium, lood, yster en mangaan, asook radioaktiewe gifstowwe.

Seekoeie in batterysuur

Werknemers van die Krugersdorpwildtuin ry daagliks water aan vir die leeus in die wildtuin, wat nou in ’n kamp aangehou word. Die leeus is immers die groot trekpleister. Die ander diere is uitgelewer aan die water in die Tweelopiespruit en die fonteine in die wildtuin waarvan die watergehalte gedurig wissel.

In 2002, toe die suur mynwater op Harmony Gold se myngrond begin uitborrel het, het nege leeus, ’n aantal jagluiperds, hartbeeste en ’n verskeidenheid boksoorte gevrek nadat hulle die spruit se water gedrink het. Die gevrekte leeus is destyds deur veeartse van Onderstepoort ondersoek.

Hul diagnose was dat die diere lewerskade, waarskynlik weens die swaar metale in die water, opgedoen het. Baie dragtige diere het ook geaborteer. Baie van hulle aborteer steeds. Maar dis moeilik om die omvang daarvan vas te stel omdat roofdiere die dooie fetusse opvreet voordat dit getel kan word.

Naby die ingang van die wildtuin woon twee seekoeie die afgelope vyf jaar in water wat byna soos “batterysuur” is in ’n dam wat voorheen net water gehad het tydens groot reëns.

Ná ’n paar dae het die water destyds gewoonlik in die dolomitiese kompartemente weggesyfer. Sedert 2002 is daar heeltyd water in die dam.

Geohidroloë meen die mynbedryf het die geologie van die dolomitiese gebied só versteur dat grondwater wat van onder opstoot, verantwoordelik is vir die standhoudende water.

Dierkundiges meen dis ’n wonderwerk dat die twee seekoeie daar oorleef. Dis ook vreemd dat hulle dié dam kies om in te woon, pleks van die Charles Fourie-dam stroomaf (waarvan die watergehalte ietwat beter is).

Dié dam, waarin hulle van 1991 tot 2003 gewoon het, is naby die Ngonyama Lion Lodge in die Krugersdorp-wildtuin. As die seekoeie hul bekke oopmaak, lyk dit kompleet of daar ’n bloederigheid tussen hul tande is. As hulle in die son lê, sien ’n mens die spierwit soutneerslag op hul vel.

Sout op blare

Navorsing oor die invloed van mynbesoedelde water op die “reproduktiese fiksheid van wilde diere, is feitlik onbekombaar”, sê ’n omgewingskundige. Hy vertel die diere in die wildtuin teel beslis nie soos voorheen aan nie. ’n Groep navorsers van die WNNR skryf daaroor in “The Pollution and destruction threat of goldmining waste on the Witwatersrand – A West Rand case study”, wat verlede jaar verskyn het. Daarvolgens kan die sigbare afname in die blesbok-springbok- en leeugetalle in die wildtuin direk verband hou met die invloed van die suur mynwater op die diere se gesondheid. Suur mynwater wat in die Tweelopiespruit en in die grondwater beland, kry ook die skuld vir die diere se lewerskade en testikulêre agteruitgang.

Die wildtuinbestuur sukkel ook erg met infrastruktuur soos besproeiingstelsels wat roes. “Soms hou kleppe, krane en koppelings, asook sproeikoppe net twee weke voordat dit wegroes en vervang moet word. Bome en struike wat deur die besoedelde water besproei word, vrek ook. As hulle met boorgatwater besproei word, lê ’n dik soutneerslag op die takke en blare.”

Besoekers aan die reservaat word gewaarsku om nie die water uit die Tweelopiespruit te drink of daar naby te kom nie. ’n Gifwaarskuwing oor die water in die Tweelopiespruit is drie jaar gelede deur die Wes-Randse distriksmunisipaliteit en die departement van waterwese en bosbou uitgereik.

Water vir primêre gebruik in die Krugersdorp-wildtuin word nou deur Randwater verskaf. Die res van die kleinhoewebewoners langs die spruit is egter steeds afhanklik van suur boorgatwater.

In nog ’n navorsingstuk deur die WNNR in Maart, “Mine water pollution – acid mine decant, effluent and treatment: a consideration of key emerging issues that may impact the state of the environment”, skryf dr. Suzan Oelofse oor die gebiede aan die Witwatersrand waar intensiewe mynbou die afgelope meer as ’n eeu plaasgevind het. Volgens haar is dit nie net die water wat besoedel is nie, maar ook die grond se boonste 20 cm. Dit word toegeskryf aan die giftige ondergrondse water wat na die oppervlak begin opstoot. Sy skryf die besoedeling is nie net beperk tot die onmiddellike gebied waar mynbou plaasgevind het nie, maar die besoedelings?pluim tot 10 km verder kan strek.

Dit is juis om hierdie rede dat wetenskaplikes, argeoloë en die bewaringsgemeenskap bekommerd is oor die invloed van die suur mynwater op die voortbestaan van die Sterkfonteingrotte. Geoloë waarsku dat die Sterkfonteingrotte in die toekoms met besoedelde water oorstroom kan word.

Die Sterkfonteingrotte is enkele kilometer stroomaf van die mynbedrywighede geleë en die water in die grotte is deel van die gebied se grondwater.

Nou probeer mynhuise die watertafel “laag” hou deur die water uit te pomp. Hulle wil dit nou halfpad skoon maak en na die platinummyne in Rustenburg toe pomp. Dié transaksie is egter nog nie beklink nie.

Bose kringloop

Intussen word die water wel uitgepomp, tot ’n mate behandel en beland dan tussen die mynhope in ’n “versteekte dam”. Dis dus ’n “bose kringloop”, sê geohidroloë, omdat dit dan weer in die grondwater beland.

In ’n verslag wat die Mogale City- plaaslike owerheid al vir ’n jaar lank probeer stilhou, word gemeld hoe negatief gemeenskappe geraak word, wat in ’n radius van etlike kilometers van die goudmyne woon. Die outeur van die “geheime” verslag (waarvan ’n kopie in Beeld se besit is) sê die doel daarvan is om alle besluitnemers, asook die uitvoerende bestuur van Mogale City, bewus te maak van die negatiewe invloed wat mynbou op die gemeenskappe in die omgewing het.

Duisende mense woon in ’n gebied wat besoedel word deur giftige water en lug, asook radioaktiwiteit wat veroorsaak word deur historiese en huidige mynbou, waarsku die verslag.

Baie van die inligting wat die outeur versamel het, is gegrond op waarnemings deur inwoners van die gebied.

Baie van hulle woon op kleinhoewes en is afhanklik van water uit hul boorgate. Dié mense kla hul drinkwater smaak sleg, dat dit rooi of oranje is en hul koffieverromer “bo dryf” as hulle dit by hul koffie gooi.

Mogale City ry nou water na van die kleinhoewes aan. Volgens ’n omgewingskundige beland 20 t swaar metale daagliks in die Tweelopiespruit. Die vermoë van die vleilande om die besoedelstowwe uit die water te haal, neem teen ’n “ontstellende tempo” af. Die vleilande is besig om stadig aan dood te gaan, waarsku die outeur.

“Ons sit hier op ’n chemiese tydbom.”

Geologie en geohidrologie

  • Altesame 45% van alle gemynde goud op aarde kom uit die Witwatersrandkom.
  • Die Tweelopiespruit ontspring in die omgewing van die Robinsonmeer, waarvan die uraanvlakke en die radioaktiwiteit 40 000 keer hoër is as in gewone, natuurlike water. Die Tweelopiespruit en sy sytak, die Rietspruit, is deel van die opvangsgebied van die Krokodilrivier (wat in die Hartbeespoortdam uitmond).
  • Die Tweelopiespruit loop soms bogronds, maar verdwyn dikwels ondergronds.
  • Mnr. Mike Buchanan, ‘n karstekoloog, sê die ingewikkelde dolomitiese formasies in die gebied herinner aan “‘n windskerm wat stukkend geslaan is”.
  • Groot dele van die N14 noord van die Krugersdorp-wildtuin, asook verskeie huise en ondernemenings kan in die toekoms hier negatief geraak word deur sinkgatvorming. Veral die Wieg van die Mensdom, ‘n wêrelderfenisgebied, word ernstig bedreig.

Die verlede

Hoe lyk die Witwatersrand ná 120 jaar van intensiewe mynbou?

  • ‘n Verslag van die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing lui goudmynbou het sedert die einde van die 19de eeu ‘n leegte (wat uitgemyn is) van nagenoeg 45 miljoen m³ onder die Wes-Rand gelaat. Dit staan as die western basin mine void bekend.
  • Daar is 270 ou mynhope in dié gebied wat strek van Randfontein in die weste tot Nigel en Springs in die ooste.
  • Saam beslaan dit ‘n gebied van sowat 400 km². Dié gebied word as steriel beskou.
  • Die mynhope is nie belyn nie en ook nie behoorlik beplant nie.
  • Dit het tot gevolg dat inwoners van die gebied daagliks aan giftige mynstof wat hulle inasem, blootgestel is.
  • Die goudmyne is verantwoordelik vir minstens 47% van alle afval wat in Suid-Afrika gegenereer word.

Die toekoms

Wat moet nou gedoen word?

  • Dringende navorsing om vas te stel hoe die besoedeling mense se gesondheid raak. Mense van die omgewing kla oor naarheid, diarree en ‘n veluitslag.
  • Groente en melk wat hier geproduseer word, moet dringend getoets word.
  • Die Nasionale Kernreguleerder moet betrokke raak.
  • Mynhuise moet saamspan en die gebied sover moontlik rehabiliteer, al beteken dit hulle moet hul aandeelhouers opspoor en van die koste van hulle verhaal, sê me. Mariëtte Liefferink van die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing.
  • Die diere in die Krugersdorp-wildtuin moet getoets word.
  • Die inwoners (tussen 10 000 en 20 000 mense) sal moontlik uit die dolomitiese gebied verskuif moet word.


Bykomende bronne:

  • “Hydrological/Chemical aspects of the Tweelopie-/Riet-/Blaauwbankspruit, with specific reference to the impact water, decanting from the Western Basin Mine Void, has on the system” , saamgestel deur Garfield Krige van African Environmental Development.
  • “Impact of the discharge of treated mine water, via the Tweelopiespruit on the receiving body Crocodile River System, Mogale City, Gauteng Province” deur Johan Fourie en medewerker.


Other products and services from Perfect Water

11-11-2011

Cancer and Heart Disease | Absolutely Perfect Water

One of the most shocking components to all of these studies is that up to 2/3s of our harmful exposure to chlorine is due to inhalation of steam and skin absorption while showering. Breast cancer, which now affects one in every eight women in North America, has recently been linked to the accumulation of chlorine compounds in the breast tissue.


11-11-2011

Agency | Absolutely Perfect Water

Says Bendeta Gordon, Director of Franchize Directions: “During the tough economic times the world is experiencing at the moment, there is hope for the South African market, simply because franchises are usually able to support themselves. There are now some 531 franchised systems operating in the local market with close to 30 000 franchised outlets serving the public in over 17 different business sectors and employing over half a million people.